top of page

Gedragskode |  Code of Conduct

Vlak 3 oortredings |  Level 3 trespasses

1. Oortreding van enige landswette.

2. Neem, handeldryf, inbesit van dwelms en/of onder die invloed van ‘n verbode middel.

3. Seksuele wangedrag.

4. Betrokkenheid in lewensgevaarlike speletjies.

5. Herhaalde Vlak 2 oortreding.

 

Hierdie oortredings word as besonder ernstig beskou en ʼn leerder se ouers sal ook gekontak word. Leerders wat hulself skuldig maak aan hierdie tipe oortredings, sal versoek word om ʼn skoolhoof ondersoek (ekstern) by te woon onder die voorsitterskap van ʼn Lid van die Beheerliggaam, waar die skool se aanbeveling, uiteesetting of eksterne skorsing vir ʼn bepaalde tydperk kan wees. 

In geval van die oortreding van die gedragskode (Vlak 2  of Vlak 3 oortredings) deur UK-lede en ander skoolleiers:

Saam met of as alternatief vir bogenoemde, skorsing van pligte vir ʼn tydperk van tot ses weke, of afdanking en permanente verwydering as ‘n UK-lid of ʼn ander leiersamp in die skool.

 

Dissiplinêre Tugkomitee:

Bestaande uit:

  • Ouerlid van die Beheerliggaam (Voorsitter);

  • Skoolhoof en of ‘n Adjunkhoof;

  • Enige ander lid van die Beheerliggaam, of persoon aangewys deur die Beheerliggaam.

  • Die aanklaer word deur die skoolhoof aangewys. (mag die adjunkhoof wees)

(Straf sal vasgestel word deur die bogenoemde komitee.)

 

Hierdie komitee word in terme van die Skolewet (84/1996) voorgeskryf en hou formele, volwaardige dissiplinêre verhore (aanklagte, pleit, lei van getuienis, kruisverhoor, skuldig/onskuldig bevinding en die oplê van straf). Hierdie komitee hanteer ernstige gevalle waar uitsetting en tydelike skorsing ‘n wesenlike moontlikheid is. Die SA Skolewet bepaal dat ‘n Beheerliggaam ‘n leerder wat vermoedelik ernstige wangedrag (Vlak 3) gepleeg het op redelike gronde en as ʼn voorsorgmaatreël vir tot sewe skooldae van skoolbywoning kan skors, maar kan slegs sodanige skorsing oplê nadat die leerder ʼn redelike geleentheid ontvang het om vertoë in verband met sodanige skorsing aan die beheerliggaam of die dissiplinêrekomitee te rig.  Indien die beheerliggaam besluit om die uitsetting van die leerder by die Onderwyshoof aan te beveel kan die beheerliggaam die leerder vir ʼn redelike tydperk van tot veertien skooldae skors, hangende die Onderwyshoof se beslissing. Tydelike skorsing bly ‘n tydelike maatreël, terwyl uitsetting ‘n permanente maatreël is.

 

Vlak 3 oortredings:

1. Oortreding van enige landswette terwyl die leerder op skool of die verantwoordelikheid van die skool is. Indien ʼn leerder se optrede aanleiding gee tot ʼn kriminele oortreding, sal die skool nie versuim om ʼn kriminele aanklag by die betrokke owerheid te lê nie, en te versoek dat die leerder krimineel vervolg word nie.

2. Neem, inbesit van dwelms en/of onder die invloed van ‘n verbodemiddel, insluitend dwelms om sportprestasies te verbeter. Dit verwys na ʼn leerder wat in besit betrap word van dwelms en verwys nie na ʼn leerder wat hulp soek om gerehabiliteer te word vir dwelmmisbruik nie.  Geen leerder mag in besit wees, dit gebruik of onder die invloed wees van enige onwettige dwelm of enige ander onwettige middels (insluitend onwettige middels om sportprestasies te verbeter) terwyl hy onder die jurisdiksie van die skool is nie. Selfs medikasie wat deur ʼn geneesheer voorgeskryf word, mag nie skool toe gebring word sonder die toestemming van die skoolhoof nie. Leerders mag ook nie in besit wees van enige toerusting wat verband hou met dwelmgebruik nie.  

3. Voorsiening of handeldryf in dwelms. Leerders mag nie dwelms koop, verkoop of handeldryf in dwelms of enige ander onwettige middels, insluitend onwettige middels om sportprestasies te verbeter, terwyl hulle onder die jurisdiksie van die skool is nie.

4. Seksuele wangedrag. Dit behels die betrokke wees in enige vorm van seksuele aktiwiteit of om in die teenwoordigheid van ander persone te wees of deur iemand anders gesien word terwyl besig met seksuele aktiwiteite. Dit sluit ook in om ander aan te hits om deel te neem aan ʼn seksuele aktiwiteit of enige ander aktiwiteit van ʼn seksuele aard wat as ʼn misdaad onder die Suid Afrikaanse Wet beskou word.

5. Betrokkenheid in lewensgevaarlike speletjies. ʼn Leerder se betrokkenheid by enige speletjie soos bv. Die “wurgspeletjie” waarin hy sy eie of iemand anders se lewe in gevaar kan stel, is streng verbode.

6. Herhaalde Vlak 2 oortredings terwyl finale waarskuwing gegee is en/of interne skorsing geldig is, asook versuim om gemeenskapsdiens te verrig. Herhaalde Vlak 2 oortredings binne ʼn tydperk van ses maande nadat ʼn leerder skuldig bevind is aan ʼn Vlak 2 oortreding, of terwyl hy ʼn finale waarskuwing ontvang het en/of interne skorsing, of versuim om die gespesifiseerde gemeenskapsdiens te verrig, sal beteken dat die oortreding opgradeer word tot ʼn Vlak 3 oortreding en sal volgens die skool se gedragskode strafbaar wees.

bottom of page