top of page

Ons skool |  Our school

Geskiedenis  |  History

 

Hoërskool Kathu het aanvanklik as Sishen Hoërskool bekend gestaan en het in 1976 sy deure amptelik oopgemaak.  Tans dien daar ‘n personeel van 48 lede onder wie 14 beheerliggaamposte is.  Daar is nog ‘n bykomende 6 aantal administratiewe personeel.  Ons skool het tans 994 leerders wat fluktueer deur die jaar.  Etnies word ons skool ingedeel:

32% blanke leerlinge

25% swart leerlinge

43% gekleurde leerlinge

 

Die medium van onderrig is Afrikaans en Engels.  Op die eerste Sondag in die September skoolvakansie van 1973 het wyle Dr MN Beukes, (toe Burgermeester en voorsitter van die skoolkomittee Laerskool FJ van Niekerk), wyle Mnr Stoffel Foucheé (hoof Laerskool FJ van Niekerk) en die destydse Direkteur van Onderwys, Mnr S Theron en Mnr PJ du Plessis, inspekteur van Onderwys op Sishen ontmoet om dringend vertoë te rig vir die bou van twee groot skole in die pas aangekondigde dorp, Kathu.  Mnr B Strydom was die eerste waarnemende hoof.  Aan die begin van 1976 was die hoërskoolgebou nog nie voltooi nie, maar Mnr Strydom het die nodige meubelement en vakmateriaal bestel en in samewerking met die skooolraad van Kuruman, die elf aanstellings gedoen.  Hulle was:

Mnr J Griessel

Mev A Stofberg

Mej E Jooste

Mev E Booysen

Mev A Terblanche

Mnr S Rens

Mnr J Terblanche

Mnr G Zaayman

Mev E Zaayman

Mev S Rudolph

Mnr A Muller .

Mev Rita de Bruyn is aangestel as sekretaresse.

 

In Januarie 1976 het die onderrig op heel ordelike wyse in ses leë klaskamers van Laerskool Kathu begin.  Daar was drie standerd 6 klasse, twee standerd 7 klasse en een standerd 8 klas.  Daar was altesaam 198 leerders in die skool.  Mnr G Zaayman was die eerste permanente skoolhoof.  Die skool word amptelik op 19 September 1978 ingewy deur Dr PS Meyer, Direkteur van Onderwys.  Wat ‘n vreugdevolle dag toe die skool geopen is, want sedert 1953 was die leerders vir hulle hoërskoolopleiding na plekke soos Olifantshoek, Postmasburg, Kuruman, Upington en Kimberley. 

Tennis was die eerste sportsoort waarin Hoërskool Kathu teen ‘n ander skool meegeding het.  Dit was teen Hoërskool Olifantshoek en Sishen het gewen.

Mnr Zaayman word gevolg deur Mnr Tinus Ferreira (waarnemend – 1987), Mnr Charl Valentin (1987), Mnr Dirk Lombaard (waarnemend – 1991), Mnr HL Bester (1992), Mnr TA Scheepers (2001) Mnr FG van Rooyen (waarnemend 2002) Mnr DWC Beukes (2004 – 2010) en Mnr Botha neem waar vanaf 2011 en word permanent aangestel op 2012. 

 

In 1987 is die skool se naam verander na Hoërskool Kathu.

 

Onder leiding van Mnr Bester se bekwame bestuur word die nuwe onderwysstelsel geïmplimenteer , en suksesvol onder leiding van Mnr Beukes deurgevoer met die eerste Graad 12’s wat in 2008 die Nasionale Senior Sertifikaat met welslae geskryf het.  Ten spyte van baie groeipyne in die nuwe sisteem, presteer die skool steeds op alle terreine. 

Tydens ‘n bloeifase van Sishen-Ysterertsmyn word talle buitelandse personeel gewerf en die skool huisves ook Poolse-, Chileense, Britse-, en Duitse Leerders. 

Hoërskool Kathu se deure is alreeds in 1991 oopgegooi vir leerders vanuit alle gemeenskappe.  Midde-in die vele uitdagings wat ‘n veranderde onderwyssisteem in ‘n multikulturele, veelrassige skoolopset bied, slaag die skool redelik effektief daarin om menigte groeipyne suksesvol te oorbrug en word verdere uitdagings rondom diversiteit daagliks die hoof gebied. Hierdie skool het tot en met 2006 480 leerders in totaal gehad. 

 

Tydens 2006 het die tegniese afdeling ‘n gedaantewisseling ondergaan met die implimentering van die nuwe kurrikulum.  Verskeie nuwe vakke is geïmplimenteer en toerusting en masjinerie is aangeskaf om die vakke suksesvol te bedryf.  Die afdeling is uitgebou tot een van die bestes in Suid-Afrika.  Goed gemotiveerde onderwysers verskaf kwaliteit onderrig vir ‘n groot aantal leerders.  ‘n Verslag van KPMG het die tegniese afdeling as een van die beste in die land aangewys.  Die tegniese afdeling het bygedra dat Hoërskool Kathu nou ook een van die tien fokusskole in die Noord-Kaap is.  Vanaf 2008 tot 2011 neem die leerdertal toe tot 950.  (verdubbeling in getalle oor 3 jaar)

 

Prestasies behaal

Hoërskool Kathu is ‘n krag waarmee ander skole in die streek en provinsie deeglik kennis neem.  Die skool presteer op sport-, kulturele-, en akademiese gebied en het in 2005 drie leerders onder die top 20 (6de, 15de, en 20ste) in die Noord-Kaap provinsie gelewer. Die skool is sedert 2004 ook ‘n aktiewe lid van die Kathu Gemeenskapspolisiëringsforum met verteenwoordigers van die VRL wat daarop dien. In 2006 behaal ons skool 100% matriek slaagsyfer. In 2010 is Hoërskool Kathu nommer 4 in die Noord-Kaap. Die beste gekombineerde uitslae vir ‘n seun in Wiskunde en Fisiese Wetenskap in die Noord-Kaap kom in 2009 en 2011 uit Hoërskool Kathu.  In 2011 verwerf die skool die prys vir die beste skool  in die Gamagara Distrik. Op sportgebied word verskeie Springbokke oor die jare opgelewer:

Rugby:   Boeta Wessels, Robert Markram, Ian Wessels, Simon Leburu (SA Akademie)

Atletiek:    Elmarie Vogel, Carlien Cornelissen, Yolanda Odendaal

Gholf:     Ben Fouchee, Annerie Wessels, Theunis Spangenberg, Heinrich van der Colff, Jacobus Liebenberg, JB Kruger

Netbal:      Handri Hager

Stoei:       Nathan Vries

Toutrek:    Danny Botha

Swem: Francois Davel

Perd uithouritte: Willem Lensing, Stephanus Lombaard, Viljoen van der Linde

Skyfskiet: Sven Hoebel, Hannes Hager

Karate:   Pieter Pretorius, Madeleine Ludik, Annemarie van der Walt, Edward Thupae, Leandri Badenhorst, Chantelle Greyling, Andrea Coetzee, Lesego Molefe, Ashleigh Boer, Juan-Michael Swart, Jean Pretorius, Marie-Louise Pretorius

Landloop:  Leah Slinger

Krieket Skeidsregter: Rudolph Rautenbach

SARVU rugbypaneel: Meiring Botha

ICSA krieket: Gerrit Botha

 

In 2005 dring die skoolkoor deur tot die Nasionale Tirisano Skoolkore kompetisie. Die redaksie van die skoolkoerant Peulpit het verskeie puik uitgawes die lig laat sien – ‘n trotse tradisie van vanaf 2006 van krag tot krag gaan. Sedert 2007 neem verskeie van ons leerders aan die FSA uitruilprogram na Duitsland deel en ontvang ons skool ook elke jaar besoek van die Duitse leerders. Sedert 2008 bied ons jaarliks ‘n akademiese aand van uitnemendheid aan waar ons Top10 leerders in elke graad vereer word vir hulle prestasies.  Charl Deacon behaal die derde plek in 2010 by die Nasionale Youth Water Prize Competition wat jaarliks deur die Departement van Waterwese aangebied word.  Sy projek word as die beste bewusmakingsprojek beskryf. Franco Coetzee behaal die 1ste plek in die 2010 Eskom Expo vir jong wetenskaplikes in Suid-Afrika.  Hy word genooi om internasionaal deel te neem en behaal die 2de plek. Andries van der Walt, Tanita Olivier, Mariaan Loots en Suvahn Eksteen behaal ‘n 2de plek nasionaal in die Hip2B kompetisie 2010 waaraan die skool vir die eerste keer deelneem.

Willem Olvier word aangewys as die beste Wiskunde en Fisiese Wetenskap leerder in 2009 in die provinsie.  Andries van der Walt ontvang BHP Biliton Award for Young Scientist vir die beste Wiskunde en Fisiese Wetenskap leerder in 2011 in die provinsie.

Jana Janse van Rensburg word as die beste student in Fisioterapie Fakulteit aan die Universiteit van Oranje Vrystaat aangewys.

Rolandi Erasmus word as die veelsydigste student aan die Onderwys en Opleiding Fakulteit aan die Noordwes Universiteit aangewys.

Cindy Erasmus word as die beste student in Dieëtkunde Fakulteit aan die Noordwes Universiteit aangewys. 

Louis Jacobs en Gerrit Botha behaal Meestersgrade in onderskeidelik M.Ing en M.Art.ET.Scien

Hoërskool Kathu bly getrou aan sy leuse “ontgin en veredel” en strewe voortdurend na uitnemendheid om leerders op te lewer wat met onderskeiding hul plek in die diverse Suid-Afrikaanse omgewing kan inneeem en volstaan.

Uitdagings wat die skool in die gesig staar: Om nog beter maniere te vind om die diverse en multi-kulturele skoolgemeenskap op ‘n bevredigende wyse te dien.  Die hervestiging van Dingleton leerders asook vervoer van hierdie leerders bied ‘n geweldige groot uitdaging. Die skool se infrastruktuur is te klein om leerdergetalle te huisves – ‘n tekort van 16 permanente klaskamers.  Sedert 2013  is GATEWAY, 'n Suid-Afrikaanse waardeprogram by die skool onder leiding van jeugwerker Gregory Modungwa ingestel, in 'n poging om bepaalde waardes by die skool se kultuur te vestig.

bottom of page